Gemeente VGK SA Gestig
Geskiedenis en Oorsig
Die Verenigende Gereformeerde Kerk S.A.Gestig het ‘n baie ryk geskiedenis. Die gemeente se vorming het in 1799 begin met die stigting van die SA Sendinggenootskap. Die eerste dopelinge was eers in 1820 as lidmate geregistreer. Sendelinge uit Europa het in daardie tyd die evangelie onder die slawe vanaf Indië, Afrika, Madagaskar, en ook aan die Khoi en San verkondig. Dit het bekend geword as die Nederduitse Gereformeerde Sending Kerk in Suider Afrika. Dis ‘n baie eng en kort beskrywing.
In 1999 het die gemeente ‘n boek gepubliseer “Die twee-eeuse erfenis van die SA Sendiggestig 1799-1999” onder redaksie van Ds DP Botha, waar die gemeente geskiedenis in meer detail opgeteken is.


Die eerste kerkgebou was in Langstraat in die Kaap, wat vandag ‘n museum is. Later het die gemeente verskuif na Belhar weens die Wet op Groepsgebiede. In die “Struggle Jare” van die 70s en 80s word die gemeente ook die plek waar die Belydenis van Belhar (1986) aanvaar is. Vandag word dit deur ander Gereformeerde Kerkgroepe in die wêreld erken as een van die Kerk se Belydenisskrifte. Die kerkgebou word jaarliks deur oorsese sowel as Suid Afrikaanse toeriste besoek.
Die gemeente word oor die jare bedien volgens die sogenaamde“herderkudde model” wat daarop neergekom het dat die leraar en die kerkraad die gemeente geestelik versorg. Oor die jare word dit duidelik dat hierdie bedieningsmodel veroorsaak die gemeente stagneer en dat die Here meer van Sy kinders verwag. Jesus se opdrag is duidelik “Gaan en maak dissipels van alle nasies” (Matt. 28:19). Die kerkraad word bewus van die groot uitdaging wat die gemeente konfronteer, asook die groot verantwoordelikheid as Moedergemeente van die VGKSA om haar lig so te laat skyn, nie net in die gemeenskap waar Sy haar bevind nie, maar ook in die Wes-Kaap, Suid-Afrika en die wêreld.
Visie 2000
In die jaar 2000 gee die Here aan die kerkraad ‘n visie “Visie 2000” gebaseer op Efesiërs 4. –
– “daar is net één Liggaam, één Gees, één Hoop, één Here, één Geloof, één Doop, één God en Vader van almal. Aan elkeen is ‘n genadegawe gegee vlg. die mate waarin Christus die gawes uitgedeel het”(vv 4-7).
Na vele smekinge en gebede tot die Here oor hoé hierdie nuwe visie in die gemeente gestalte moet kry, besluit die kerkraad dat Prof. Russel Botman die kerkraad eers moet toerus en die visie verduidelik en daarna die gemeente hieromtrent inlig en skool. Die leuse van die gemeente word, “From Maintenance to Mission.”
Op grond van hierdie visie word die Bedieningsplan van die gemeente saamgestel.
Die kerkraad besef om die visie en leuse te laat realiseer volgens die Woord van die Here, sál die gemeente moet wegbeweeg van die sogenaamde “herder-kudde model” na die “liggaamsmodel” waar elke gemeentelid as gelowige sy/haar gawe kan gebruik om sodoende mekaar en die gemeenskap te dien (vgl. Efesiërs 4:7, 11 evv). Dit was baie duidelik, na vele gebede dat hierdie visie binne die wil van God was, en dat die hand van die Here met die kerkraad en gemeente was.
Na vele gespreksessies met verenigings, wyke en na vele preke oor temas wat handel oor handel oor die gawes van die gelowiges en hoe God wil dat hierdie gawes binne en buite kerk aangewend moet word, begin Visie 2000 stadig maar seker gestalte in die gemeente aanneem.
Met die vertrek van ds. Paulus de Wet aan die einde van Junie 2016, besluit die Kerkraad om ‘n hervisioneringsoefening te doen onder leiding van ‘n onafhanklike fasiliteerder mnr Craig Arendse. Die groep kerkraadslede en gemeentelede wat onder leiding van die Heilige Gees hierdie oefening meegemaak het, het diep onder die indruk gekom van die feit dat daar stagnasie ingetree het sedert die aanvanklike entoesiasme rondom Visie 2000. Die versoeking en gevaar van na-binne gekeerdheid van gemeentes is ‘n wesenlike uitdaging regdeur die kerk van Christus. Uiteindelik word die volgende VISIE ná ‘n tweede sessie in September 2016 geformuleer:
‘n Kerk in gemeenskap – transformerend en gelei deur die Heilige Gees, wat uitreik na almal en almal insluit en aanvaar; lewend(dinamies) in haar interaksie en aanbidding, wat lei tot ‘n dieper spiritualiteit/geestelikheid; oop vir verandering en vertoon die ware kenmerke van familie, diens en betroubaarheid.
‘n Korter weergawe luis soos volg:
In gemeenskap…verwelkomend, lewenskragtig, transformerend, en deur die Heilige Gees gelei
Demografiese inligting:
Die kerk is gelëe te Belhar, een van die voorstede in Bellville, Kaapstad.
Die meerderheid gemeentelede bly binne in Belhar terwyl ‘n paar gesinne in ander woonbuurte binne ongeveer ‘n radius van 20 km. vanaf die kerk woon. Dit sluit in: Kensington, Parow, Bellville, Brackenfell, Kuilsrivier, Ravensmead, Delft en Bishop Lavis.
Gemeentestruktuur:
Die gemeente word huidiglik bedien deur Dr Llewellyn MacMaster en ‘n span kerkraadslede van 18. Teologiese student William Cloete en twee emiriti predikante, di. Alkie van Wyk en Henry Matthys staan die leraar by waar en indien nodig, met veral preekbeurte.
Die gemeente is onderverdeel in 12 wyke en het ‘n lidmaat tal van +/850.
Die Geïntegreerde Bedieningsmodel funksioneer binne die gemeente. Dit beteken ondermeer dat daar nie meer sprake is van Kerkraadskommissies nie, maar “Bedieninge” waarvolgens gemeentelede hul bepaalde gawes vrylik kan uitleef tot eer van die Gewer daarvan en tot opbou van die gemeente.
- Kernbedieninge: Getuienisaksie; Verkondiging en Aanbidding en Gemeentelike Bediening
- Ondersteunende Bedieninge: Diensgetuienis; Finansies en Eiendomme; Administrasie
Die tradisionele bedieningsgroepe soos die Christian Youth Ministry (CYM), Christelike Vrouebediening (CVB), Brigade, Sondagskool, Kerkkoor en Lof- en Aanbiddingspan funksioneer onder die vaandel van die Kernbedieninge. Die Alpha-bediening, ‘n tien-weke evangelisasiekursus, is sterk gevestig binne die gemeente. Binne die Ablaze Dance Ministry vind jongmense en kinders ‘n ruimte om die Here te dien met dans en lofprysing. ‘n Klein groepie toegewyde lidmate vergader elke naweek as Gebedsgroep om die behoeftes van die gemeente en gemeenskap in gebed en voorbidding aan God op te dra.
Meer oor die bediening word elders aangedui.
Ons dank God vir Sy Goddelike genade, wysheid, insig, liefde en seën oor die jare heen.
Terwyl ons nooit God se groot en magtige dae in die verlede vergeet nie, hou ons vas en bou ons voort op die belofte dat God altyd op die punt staan om nuwe dinge te doen, na aanleiding van Jesaja 43:18, 19a, b:
“Maar moenie net aan die vroeëre dinge dink en by die verlede stilstaan nie. Kyk, Ek gaan iets nuuts doen, dist staan op die punt om te gebeur, julle kan dit al sien.”
Die Here se Seën word U toegebid.