DIENSGETUIENIS
Diensgetuienis is een van die kernbedieninge van die Verenigende Gereformeerde Kerk van Suider- Afrika (VGKSA). Dit integreer twee sogenaamde kommissies wat bekend gestaan het as Diens van Barmhartigheid en Getuienisaksie.
Dit behels die getuienis van Christus na buite gerig en het ten doel die teologiese en geestlike groei en uitlewing van Getuienis en Diens. Die doel val nou saam met die gemeente SA Gestig se visie om ‘n verwelkomende kerk in gemeenskap met self en andere op ‘n lewenskragtige en transformerende wyse te wees onder leiding van die Heilige Gees.
Diensgetuienis koördineer aktiwiteite van verskillende bedieninge en groepe nl: Diakonie, Getuienisaksie, Alpha-bediening, Ondersteuningsgroep en alle belangstellende lidmate wat hul gawes wil uitleef.
Aktiwiteite sluit in besoeke aan ouetehuise en interaksie met Straatwerk, ‘n organisasie wat uitreik na mense wat op die straat lewe en ‘n lewe op die straat maak. Die jeug is veral hierby betrokke terwyl Diakonie hulself weer besig hou met Getuienis aan die honger en die wese.
Alpha-bediening spits hulself toe op die teologiese en geestelike groei van belangstellendes oor geloofs- en denominasie grense heen. ‘n Gebedsgroep hou Saterdag- en Sondagoggende, asook soms tydens dienste die gebedsvure brandend met gerigte intersessie.
Diensgetuienis sluit ook werkswinkels, kampe en konferensies in en kring ook wyer uit na diens aan gevangenis, verslaafdes, mense met MIV & VIGS en ander uitreikprogramme.
Alle kerkraadslede en belangstellende lidmate is betrokke by hierdie kernbediening om saam in die geestelike en fisiese nood van mense te spreek en verandering te bring.
In Lukas 10 vra die wetsgeleerde aan Jesus wie sy naaste is en nadat Jesus die verhaal van die Barmhartige Samaritaan vertel het beopdrag Jesus die wetsgeleerde en ook vir ons:
Lukas 10: 37… Gaan en doen jy netso.